BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 25 April 2024

Die Afkop Hond

 FAMILIE IS KOSBAAR...

Dis deel van die De Konings se familie oorleweringe. Pa het ons al daarvan vertel. Van die afkop hond. Tannie Miem wat as dogtertjie die afkop hond gesien en die stuipe gekry het...

Nou onlangs met my langverlof het ek ook daar in die Oos Kaap ‘n draai gemaak. Ek was baie jare laas daar en hier was nou ‘n geleentheid om darem weer ‘n bietjie familiebande op te tel en te versterk.

Vir ‘n week het ek en Natanie by my oudste neef Thomas oorgebly op Jeffreysbaai en is oorweldig deur die gasvryheid en ekstra moeite wat hy gedoen het om ons verblyf so aangenaam as moontlik te maak. (Baie dankie neef Thomas…waardeer!) Thomas  as oudste neef is  soort van die skakel en verbinding tussen die twee generasies. Hy weet en onthou dinge waarmee die jongeres nie so goed bekend is nie. Thomas is gelukkig ook ‘n goeie en luisterbare verteller. Familiestories. Ook spookstories. En dis nogal blykbaar volop hier in die Oos Kaap... So word die verhaal van die afkop hond toe ook weer afgestof.

Oupa Thom de Koning was baie lief vir sy honde. Een van hulle was ‘n Dalmatian, met die voorspelbare naam van Bontes. Bontes het op ‘n stadium verdwyn en daar is baie na hom gesoek, maar tevergeefs.

In daardie tyd gaan kuier oupa en ouma met die kinders by vriende aan die anderkant van die Gamtoos rivier. Collings mense. Oupa was veral ook lief om op hulle grond te gaan jag. Om by die Collings te kom moes die treinbrug oorgesteek word. Daar is toe lekker gekuier en seker ook geëet. Dis nou oupa, ouma en die oudste twee kinders, oom Boetie was die oudste, seker toe so ongeveer ses jaar oud en tannie Miem ‘n jaar of wat jonger. (Pa was toe ook moontlik al gebore en het die tog dan as baba meegemaak) Niemand kan presies die tyd en dus die ouderdomme onthou nie...

Hulle loop toe in die donker oor die treinbrug met ‘n lantern as lig. (Terloops, die treinbrug het klaarblyklik ook ‘n besondere storie aan hom. Dit was oorspronklik ‘n brug in die Vrystaat wat die toneel was van aksie tydens die Anglo-Boere Oorlog. Dis later van tyd verskuif na die Gamtoos. Die brug is vandag nog daar en die koeëlgate kan gesien word.) Op die brug gebeur dit toe... Die jong Miem roep verskrik: “Daar is Bontes... Maar Bontes het nie ‘n kop nie...”  Die presiese woorde sal niemand natuurlik nou meer weet nie. Nietemin ‘n angswekkende ervaring. Die ander op die brug sien egter niks...

Die volgende dag is daar weer na Bontes gesoek. Ook onder die brug. En ja... sy koplose lyf is opgespoor. Bontes moes ‘n onderonsie met ‘n trein gehad het, en het sleg daarvan afgekom...

Thomas het ons nou weer na die einste brug gevat. Dis net so ‘n entjie aan van waar oom Robert en oupa se suster Ant Johanna ‘n plaaswinkeltjie gehad het.


Thomas, my oudste neef


Die treinbrug oor die Gamtoos


Tannie Miem is nou op 93 jarige ouderdom, my oorlede Pa se enigste lewende sibbe. Nog vol energie en helder van verstand. Natuurlik ken sy die storie van die afkop hond. Ek het haar gevra. Maar sy self onthou niks van die gebeure nie, sy was te jonk.

Is die storie van die afkop hond waar? Ek weet nie. Moeilik om te glo dat iemand dit sommer uit die duim gesuig het. Maar ook moeilik om te verklaar...

Wat sou kon gebeur het?  Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat familie en familiegeskiedenis kosbaar is. En nog meer kosbaar as ons ook broers en susters in God se huisgesin kan wees. Mag God dit vir ons skenk!


Natanie (13) en tannie Miem (93)






Woensdag 14 Februarie 2024

BEKOMMERNISSE? WORD BEVRY!


Bekommernisse beroof, bedreig, belemmer... Ja bekommernisse beroof jou van vreugde, bedreig jou gesondheid, en die ergste... Bekommernisse belemmer jou ingang in die koninkryk van God.

Ja, inderdaad kan dit jou uit die ewige saligheid hou. In Lukas se weergawe van die GELYKENIS VAN  SAAIER noem Jesus drie soorte onkruid wat keer dat die saad van die Woord vrug dra – bekommernisse, rykdom en plesiere. (Lukas 8:14) So bekommernisse is nie maar sommer net ‘n by sakie waaroor ons maar kan spot nie...

Jesus hanteer die kwessie van bekommernisse in detail in  MATTEUS 6:19-33  (lees dit gerus in geheel deur om die hele vloei van Jesus se boodskap te begryp)

 Wat is bekommernisse? 

Dis die dinge wat veroorsaak dat angstigheid, vrees en paniek  ons beetpak. ‘n Pynigende gevreet aan jou binneste veral oor die toekoms. Dis mos juis toekoms vrese wat ons laat rondrol en laat wakker lê. Wat ons aandag van God  en sy koninkryk aftrek en ons fokus verskuif na onsself. Net eers ‘n bietjie duidelikheid – wat hier ter sprake is nie die normale besorgdheid en verantwoordelikheidsin wat normale menslike beplanning en optrede voorafgaan nie. Om op ‘n nugter wyse te besef ek skryf oor ‘n week ‘n wiskunde toets en te besef dis noodsaaklik dat ek betyds hard daarvoor begin leer, is nie ‘n sondige bekommernis nie. Anders gestel, vry wees van bekommernisse beteken nie traak-my-nie-agtigheid, luiheid en passiwiteit nie. Kommerlose vertroue in God beteken tog  nie ek sit op die stoep en wag dat brood uit die hemel val nie.  Jesus sê die Vader sorg vir die voëls, maar natuurlik is hierdie einste voëls kliphard op soek na hulle saad en wurmpies... 

Bekommernisse is daardie abnormale vrese en gedagtes wat veroorsaak dat jy nie met vreugde as kind van God kan leef nie.

 Bekommernisse is verkeerd! Jesus sê STOP daarmee. Kyk na vers 25,31,34 

“Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor wat julle sal drink, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe dan nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?

“Moet julle daarom nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie.

“Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal hom oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”

 

Stop met bekommernisse - dis verkeerd, dis wantroue in God se Vaderskap én dis boonop nuttelose dwaasheid. 

Wie van julle kan deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? (27) Dit bring my nêrens! Jy baat niks by al jou bekommernisse nie. Bekommerd wees  is ‘n vermorsing van kosbare tyd en energie. Dis ‘n slegte advertensie vir Jesus en ‘n klad op die wese van Christenskap.

OORSAKE VAN VRETENDE BEKOMMERNISSE :

(Daar sou waarskynlik lank hieroor bespiegel kon word, maar hier word net twee sake genoem wat duidelik uit Jesus se woorde na vore kom.)

Verkeerde waardesisteem. Die inleiding tot hierdie gedeelte is baie belangrik en vorm eintlik die basis van als. Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie, daar waar mot en roes verniel, en waar diewe inbreek en steel. (19) “..skatte op aarde…” Ons moet nou baie versigtig wees vir verkeerde afleidings. Jesus verbied ons nie om te spaar of te werk nie. (Dis juis dinge wat die Woord aanmoedig) Dit gaan nie oor ‘n spesifieke afsnypunt van wat te veel geld of bates sou kon wees nie.  (Rykdom is ‘n uiters relatiewe begrip...) Dit gaan oor   ‘n lewenshouding wat die hele lewe beoordeel en evalueer i.t.v wat ek besit. Die siening dat hoe meer jy het, hoe meer suksesvol is jy... Dis opsigself nie verkeerd om ryk te wees nie, maar dis beslis verkeerd en DWAAS om nie ryk te wees by God nie.  (Vergelyk die gelykenis van die ryk dwaas in  Lukas 12. Sy probleem was nie die vol skure opsigself nie, maar die feit dat hy God nie geken en gedien het nie.)  Dit gaan oor ‘n verkeerde fokus – ‘n oog wat verkeerd na die lewe kyk. Hierdie waardesisteem wat alles meet in terme van aardse besit is onversoenbaar met 'n verhouding met die lewende God. 

'n Fokus op geld, maak egte Christenskap onmoontlik! 

Jesus leer duidelik : “Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie. (24!)  


En die groot ironie-  ‘n Verknegting , ‘n slaaf wees van Mammon lei tot juis bekommernisse... ek meet my lewens waarde i.t.v besittings, ek moet dus altyd kompeteer met ander... ek "stress" myself dood om net by te hou en om indruk te maak! Die groot siekte van “Keep up with the Jones...”   “As hulle dit het moet ek dit ook kry...” Jy kan nie daardie nuwe motor se paaiemente op die lange duur bekostig nie, maar ek moet probeer byhou by my welaf vriende en so kweek ek vir myself bekommernisse en bring myself in die moeilikheid!  Ek meet my eie waarde en ander se waarde aan sigbare dinge. Ek het ‘n valse definisie van sukses... As my lewe draai om aardse bates gaan ek altyd in ‘n bekommerde toestand wees want hierdie goed wat my kwansuis moet gelukkig maak, word oud, stukkend en soos ons almal al agtergekom het, gesteel. Hierdie dinge waarop ek my lewensvreugde bou, word voortdurend bedreig deur peste en slytasie, vandale en diewe.  ‘n Gejaag na sigbare dinge is ‘n resep vir die kweek van bekommernisse.

Kleingeloof.  As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in 'n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges? Dis opvallend dat Jesus die woord “kleingelowiges” in vers 30 gebruik. Nie “ongelowiges” nie. Hy praat hier met sy dissipels – hulle glo immers in Hom. Die gevaar is dat ons as sy dissipels ons geloof beperk. Ek  beperk my geloof tot my geestelike welsyn/redding, maar as dit by my gewone aardse lewensbestaan kom, dan vertrou ek God nie regtig nie. Ek vertrou die Here om my sonde te vergewe en my die ewige lewe te gee, maar as dit oor my daaglikse lewe gaan, wantrou ek God se liefde of vermoë om vir my te sorg en my te beskerm.  (Dis natuurlik direk in stryd met wat Jesus geleer het in die Onse Vader gebed – sy dissipels mag juis bid vir alledaagse behoeftes – daaglikse brood!) Hierdie beperkte onvolledige geloof en gebrekkige vertroue is die oorsaak van ongetemde bekommernisse wat ons lewens opvreet. Anders gestel – gewoonlik is bekommernisse ‘n simptoom van ‘n gebrekkige ongesonde geloof! Ons mag nie maar vrede maak met ‘n gedurige bekommernis nie – dis nie God se wil nie.

OPLOSSING : KRY SKATTE IN DIE HEMEL!

Begin by die kern van die probleem. Verskuif jou fokus en pas jou prioriteite aan. Hoe? Maak skatte in die hemel bymekaar! “Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, daar waar mot en roes nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en steel nie. (20) Wat presies beteken dit?  Maar soek eers die koninkryk van God en sy •geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. (33) ‘n Fokus op God se koninkryk en daarom ‘n bereidheid om volgens sy wil te leef. Kyk anders na die lewe. Ja ons is nog steeds op aarde en moet eet, drink en aantrek – en God weet dit ook, maar God se kinders het ‘n wyer visie as Elon Musk en Bill Gates – ons hart en gedagtes moet oorheers word deur God en sy koninkryk. Ons prioriteite, belangstellings en vreugdes sal verskil van die wêreld wat geld, plesier, geluk en roem najaag.


Ons moet hierdie gedeelte verstaan in die hele konteks van die Bergrede. Die Bergrede leer ons dat ware geluk slegs gevind word in die koninkryk van God. Om te weet ek behoort aan die koninkryk. Die Bergrede onderstreep die radikale verskille tussen God se kinders (burgers van sy koninkryk) en die mense wat hom nie ken nie. ‘n Lewe wat fokus op die koninkryk is ‘n lewe in afhanklikheid van God en Jesus – ek is afhanklik van Hom vir my geluk – nou en eendag, ek vertrou Hom vir al my behoeftes van siel en liggaam! Kyk weer na die wonderlike belofte in vers 33. Wat is die kern van God se wil? Om in Jesus te glo en sy opdragte te gehoorsaam. (Gaan lees die hele BERGREDE en kyk wat beveel Jesus.) En as ek waarlik in Jesus glo is God mos my eie Vader. Die Vader wat vir die voëls en die blomme sorg. Die Vader wat nog soveel te meer vir sy kinders wat gewas is in die bloed van Jesus sal voed, klee en bewaar. Ons word uitgedaag om God as Vader te vertrou. Hy is die volmaakte Vader en Hy weet presies wat ons nodig het. “Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het.”  (32)

Nou wat moet ek doen as bekommernisse my skielik oorval? (Dit gebeur mos met ons almal)  Vertrou die Vader! Maar presies hoe?  Dis nie net Jesus wat oor bekommernisse praat nie, Paulus doen dit ook en hy is baie prakties. Filippense 4:6. "Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend." Vertroue op my Vader beteken dat ek eerlik my hart voor Hom sal uitstort! Dat ek my bekommernisse vir Hom sal gee en dat ek nie sal vergeet om Hom as goeie Vader te dank nie. Onthou die danksegging! Dis ‘n baie belangrike praktiese punt... anders gaan my gebede net my herinner aan al my bekommernisse en my meer angstig en depressief maak. 

Bekommernisse kom oor ons almal se pad. Kinders van God mag net nie dat dit ons lewens oorheers nie. Ons moet daarteen kies. Ons kies om anders na die wêreld te kyk, ons kies om ander waardes en vreugdes te hê, ons kies om ons Hemelse Vader te vertrou op alle vlakke van die lewe.

As jou lewensvisie en fokus is om aardse bates bymekaar te maak – het jy rede om bekommerd te wees, baie bekommerd... Maar as God se koninkryk jou fokus is en God se wil jou begeerte is - MAG JY NIE EN HOEF JY NIE BEKOMMERD WEES NIE, want jy het ‘n hemelse Vader wat NOU en EENDAG volmaak vir jou sorg! Luister na die volledige BOODSKAP


Kliek ook op KAN GOD REGTIG SORG?

Donderdag 04 Januarie 2024

VERSLAAF (addicted)?

- HOE KAN EK VRY KOM?

Daar is baie raad en planne teen verslawing. Dis uiteraard 'n komplekse probleem en mens moet versigtig wees vir oorvereenvoudigings en goedkoop raad. Kinders van God kan vir alle lewenssituasies egter staatmaak op God se onfeilbare Woord. Die Bybel vertel ons HOE ons verslawing kan oorwin!

Ek wil jou verseker God se Woord is waar en kragtig en daarom kan jy wat regtig wil vry kom beslis HOOP hê!

 Die apostel Petrus skryf oor verslawing in die 2 Petrus brief in hoofstuk 2. Petrus waarsku hier teenteen die vals profete en leraars en dan raak hy die kwessie van verslawing aan... 

Vers 19 "mense (vals profete) wat aan hulle (ander Christene) vryheid beloof, alhoewel hulle self slawe van die verderf is. 'n Mens is immers verslaaf aan dit waaraan jy toegee."




 Die valse leraars beloof ‘n valse vryheid aan hierdie jong Christene – met die gedagte van “Ons leef nou in die genade daarom maak God se wette nie meer saak nie” – en hulle maak hierdie vals beloftes terwyl hulle self vasgevang en verslaaf is aan sonde. 

VERSLAWING  is ‘n aktuele saak wat ons almal raak!


So dikwels hoor ons, of ons sê dit vir onsself -“Ek kan nie hierdie ding los nie” – hierdie ding is dalk pornografie, buite egtelike verhoudings, dobbel,  die skadelike rookgewoonte, ooreet, videospeletjies, woede uitbarstings…of dalk ‘n verslawende, verlammende luiheid waarin jy vasgevang is... ‘n luiheid om te bid, kerk toe te kom, die Woord te lees.... (in ‘n sekere sin is ALLE sonde verslawend, gewoontevormend... hierdie boodskap is dus vir ons almal bedoel!)


Verslawing is om iets se slaaf te wees... Iets of iemand anders word jou BAAS! Verslawing is natuurlik in ‘n sin ‘n relatiewe term… met groot sekerheid sou mens kon sêniemand is absoluut verslaaf nie… Ek bedoel...as die gevolge wat op die spel is erg genoeg en seker genoeg is, sal jy nie sommer aan jou verslawende drang toegee nie… As jy byvoorbeeld voor die TV sit en net een kliek hoef te gee om na naaktheid of ‘n porno fliek te kyk, maar daar is ‘n ISIS terroris met ‘n mes teen jou keel… Hy sê :"Nou toe, as jy hierop kliek sny ek jou keel onmiddellik hier af!" Sal jy kliek? Of andersins, as jy jou vinger op die knoppie het en iemand kom in met ‘n vet beursie met een miljoen kontant en sê: “Jy kry dit nou as jy nie daardie knoppie druk nie.”, dan sal jy verbaas wees oor hoeveel selfbeheersing jy het om die verslawing te oorwin.* 

KAN NIE of WIL NIE?

Dit kom dus daarop neer dat ons nie die oordele oor  en negatiewe gevolge van verslawing aan sonde ernstig opneem nie of aan die anderkant nie die heerlike beloning wat vir ons wag as ons verslawing oorwin ernstig opvat nie. Ons moet versigtig wees om te sê : “Ek kan nie loskom nie” die eerlike oorsaak is dalk eerder “ek wil nie loskom nie!”

Petrus spreek juis hierdie twee sake aan – die ernstige gevolge van verslawing aan sonde aan die eenkant en die heerlike beloning as ons die sonde oorwin aan die anderkant. Hy kyk na die ernstige gevolge in vers 20-22    

Trouens, as mense, nadat hulle deur die kennis van ons Here en Verlosser Jesus •Christus aan die besoedeling van die wêreld ontsnap het, tog weer daarin verstrik raak, en daaraan toegee, is die einde vir hulle slegter as die begin.  Dit sou immers vir hulle beter gewees het as hulle die pad van die geregtigheid nie leer ken het nie, as wanneer hulle dit wel leer ken het, net om dan weer af te wyk van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Op hulle is die waarheid van die volgende gesegdes van toepassing:  “ 'n Hond keer terug na sy eie braaksel,”  en  “'n Sog was haarself deur te rol in die modder.”

Petrus gebruik ‘n baie grafiese beeld om die situasie van ‘n Christen wat hom weer laat oorwin deur een of ander sonde en verslawing uit te beeld – Die van 'n hond wat sy eie braaksel weer opvreet! Van 'n gewaste vark wat weer in die moddr gaan rol! Petrus waarsku ons baie duidelik teen die grusame en tragiese gevolge wat dit inhou om terug te val in ‘n lewe van ongehoorsaamheid en verslawing. So ‘n toestand van teruggevallenheid is erger as om nooit bekeerd te gewees het nie. 

Jesus rig ‘n soortgelyke waarskuwing in Lukas 11:24-26. Die bose gees wat uit die mens uitgegaan het, maar as die "huis" leeg bly, kom hy weer terug en bring sewe ander slegter geeste saam. Die einde is baie erger as die begin!

Besef die skrikwekkende ernstige gevolge as jy jou weer laat oorwin deur sonde... dan gaan jy twee keer dink.

Petrus spreek ook die saak van heerlike beloning aan vir die kinders van God wat volhard in heiligheid. Hy moedig positief God se kinders aan om onberispelik en vlekkeloos te leef juis omdat daar so ‘n heerlike prys vir ons wag – die onberekenbare heerlikheid van die nuwe hemel en die nuwe aarde! 2 Petrus 3:10-13


Vers 13 "Maar ons verwag, volgens sy belofte, nuwe hemele en 'n nuwe aarde, waar geregtigheid woon."




Broer en suster as jy oortuig is van God se oordele, die skrikwekkende gevolge van sonde en as jy oortuig is van God se beloning van heerlikheid, die volmaakte vreugde en vervulling van die nuwe hemel en aarde wat op God se kinders wag – sal jy versoeking en verslawing kan oorwin! 


GENOEG KRAG?

Miskien wil jy nog steeds beswaar maak – "Ja, ek weet hierdie dinge, maar my krag is te min! Dis nou maar so, ek is net te swak!" Kom ons maak net eers seker – Is jy regtig ‘n kind van God? Is jy besig met meer as net uiterlike godsdiens en het jy jou tot Jesus bekeer en stel jy jou vertroue alleen in sy volmaakte offer aan die kruis? Is jou hoop nie op jou eie prestasies nie, maar op sy volmaakte genoegsame kruisdood, op sy meriete? 

Indien dit die geval is, kan ek jou uit die Woord verseker jy het beslis reeds genoeg krag om alle sonde, versoeking en verslawing te oorwin! 

Kyk beslis na 2 Petrus1:3! 

"Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir 'n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het."

En wat is die praktiese effek en gevolge van hierdie krag? Vers 4-7!  (GAAN LEES DIT) Jy wat waarlik aan Jesus behoort, het reeds die krag ontvang om by jou geloof allerhande praktiese vorme van Christelike groei te voeg. En let op – een van die opdragte is juis SELFBEHEERSING! 

Ons ontvang die opdrag tot selfbeheersing omdat God deur sy Heilige Gees aan elke kind van Hom reeds die krag daarvoor gegee het! God sal nooit onmoontlike opdragte aan sy kinders gee nie! Ons mag dus nie meer die verskoning gebruik van “Ek kan nie” – die eerlike rede is dalk “Ek wil nie”  Ons mag nie die verskoning gebruik van “Ek is te swak nie.” Die probleem is nie krag nie, maar hardkoppigheid en onwilligheid. Die godsman AW Tozer het gesê : “Elke kind van God is so heilig soos hy regtig wil wees.”  Kom ons wees net elkeen baie eerlik met onsself... En as jy eerlik is oor jou onwilligheid, pleit ek by jou – bedink die ernstige gevolge van jou sondige verslawing, en dink aan die heerlike beloning wat jy gaan misloop...


Kies teen jou verslawing, jy kan. Dit gaan nie maklik wees nie... dit gaan drastiese stappe verg. Dit gaan pynlik wees... Konkrete definitiewe aanpassings in jou leefstyl of daaglikse program mag nodig wees. Jy sal heel moontlik  fisies van party dinge ontslae moet raak, party afsprake moet kanselleer en party vriendskappe moet verbreek. Jesus het hierdie beginsel van radikale optrede baie grafies gestel...En as jou hand jou laat struikel, kap dit af! Dit is vir jou beter om vermink die lewe in te gaan as om met twee hande weg te gaan tot in Gehenna (hel), in die onblusbare vuur.”  (Markus 9:43)



Verslawing is soos om ‘n os in ‘n manga te wees – jy kan nie wegkom nie, jy is op pad na die slagpale van die eindoordeel. Mag jy deur die genade en krag van God betyds vrykom! Jesus kan en wil jou volkome vry maak!

Jesus beloof ons in Johannes 8:35 :

"As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees."

Sterkte vir jou! En onthou daar is broers en susters wat graag saam met jou op hierdie pad sal stap... wat net so afhanklik van Jesus se genade is soos jy!



Is hy nog jou BAAS?


*Voorbeeld gekry by John Piper

 

Vrydag 01 Desember 2023

Maria die Begenadigde

 - Is sy die ark van die Nuwe Verbond?

Ons lees in Lukas 1 hoe die Engel het aan Maria 'n verbysterende buitengewone wonderbaarlike boodskap oordra...  Dit kom daarop neer... "Ja al het jy nie ‘n man nie, sal jy moeder word van die Seun van die Allerhoogste." Dink bietjie... Sy ‘n gewone tienermeisie. Dis asemrowende  genade! Dis ook die ontsagwekkende ALMAG van God in aksie. 

Die engel het ook die feit van Elisabet se swangerskap genoem as  voorbeeld dat niks vir God onmoontlik is nie. (Dis natuurlik nie die eerste keer dat 'n kinderlose vrou, wonderbaarlik moeder word nie. Dink maar aan Hanna die moeder van Samuel. Later blyk dit dat Lukas doelbewus die aandag wil vestig op die Samuelgeskiedenis...) 

BESOEK AAN ELISABET

Maria gaan besoek nou Elisabet en daar gebeur weereens onbeskryflike heerlike dinge.   Die ongebore Johannes, spring op van vreugde in Elisabet se baarmoeder. Elisabet word vervul met die Heilige Gees. Dan maak sy met die krag en insig van die Heilige Gees ‘n merkwaardige uitspraak – Maria is uniek geseënd onder vroue ( absoluut uitsonderlik spesiaal) “Geseend is die vrug van jou moederskoot.” Dit sou nog normaal kon klink, maar dan kom die klimaks in vers 43 – “die moeder van my Here,” maw die moeder van Jesus die Here, onthou - Jesus wat waarlik God is m.a.w. die moeder van God! Dis ontsagwekkend! Opvallend ook is die manier waarop Elisabet se woorde gestel word in vers 43    “Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?” Wie is ek, ek is dit mos nie werd nie?

ARK VAN DIE NUWE VERBOND?

Hier kom ons nou by ‘n baie interessante en  fassinerende saak. Ons is mos nou nie die eerste mense wat hierdie gedeelte in Lukas lees nie. Ons moet dit ook lees saam met die kerk van 2000 jaar. Nou is dit interessant dat van die ou kerkvaders na Maria verwys het as die Ark van die Nuwe Verbond. 


Die verbondsark – dit was mos daardie goue houtkis wat in die Allerheiligste deel van die  tabernakel en later die tempel gestaan het. Ons ken die geskiedenis van hoe die ark deur die Fillistyne weggevoer is, al die drama wat daarmee saam gegaan het en die hele verhaal hoe dit weer teruggebring is na Jerusalem.  (Lees gerus  gou daarvan in 2 Samuel 6.)

As ‘n mens nou bietjie dieper na hierdie paragraaf in Lukas kyk, sien mens merkwaardige ooreenkomstige tussen hierdie gebeure by Elisabet  in Lukas 1 en die terugbring van die verbondsark in 2 Samuel 6. Dit lyk asof Lukas sy verhaal doelbewus skoei op die gebeure in 2 Samuel 6. Onthou net Lukas het waarskynlik reeds sy lesers voorberei vir ‘n tabernakel en ark konteks! Vgl. Lukas 1:35 met Eksodus 40:34,35 waar die heerlikheid van die Here neerdaal op die tabernakel waarbinne die verbondsark van God was!  In die Septuagint vertaling van die Ou Testament word hier presies dieselfde woord gebruik. * Daar is reeds dus die insuniasie van  'n lyn van die ark na Maria!

Kom ons kyk nou na 'n fassinerende vergelyking tussen die arkverhaal in 2 Samuel 6 en die besoek van Maria aan Elisabet:

Vergelyking** :

Ark van die Ou Verbond

Maria – “Ark” van die Nuwe Verbond

Die ark gaan na die bergland van Judea. (2 Sam. 6:1-11).

Maria reis na die huis van Elisabet en Sagaria in die berglandskap van Judea. (Lukas 1:39).

Dawid dans gekleed in ‘n priesterlike kleed voor die ark.  (2 Sam. 6:14).

Johannes die Doper, van priesterlike afkoms, spring op in sy ma se moederskoot as Maria naderkom - (Lukas 1:41).

Dawid vra  “Hoe kan die ark van die Here na my toe kom?” (2 Sam. 6:9).

Elisabet vra : ““Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?”  (Lukas 1:43).

Dawid en die hele volk van Israel begroet die ark met uitroepe van vreugde. (2 Sam. 6:15).

Elisabet het  “hardop uitgeroep” (Lukas 1:42). Die Griekse woord ἀνεφώνησεν word in die Septuagint gebruik in konteks van die ark. (Hier in Lukas is dit die enigste plek in die  NT waar dit gebruik word!)

Die ark het drie maande in die huis van Obed-Edom gebly.  (2 Sam. 6:11).

Maria bly drie maande by Elisabet. Lukas meld dit spesifiek.  (Lukas 1:56).

“Die Here het Obed-Edom en sy hele huishouding geseën.” (2 Sam. 6:11).

Die woord geseënd/gelukkig word drie keer gebruik. (Lukas 1:39-45).

Die ark kom terug na Jerusalem en  uiteindelik teruggebring na die tempel waar die heerlikheid van die Here geopenbaar word. (2 Sam. 6:12; 1 Kon. 8:9-11).

Maria keer terug huis toe en eindig uiteindelik ook in die tempel in Jerusalem met die vleesgeworde Woord van God, die baba Jesus in die tempel. (Lukas 1:56; 2:21-22).



 

Is dit nou alles toevallig? Ek dink nie so nie...

DIE FOKUS OP DIE HEERLIKHEID VAN JESUS

Wat nou? Wat moet ons nou hiervan maak? Een saak is duidelik - God is op ‘n unieke manier in beheer van die geskiedenis. Die geboorte van Jesus word vooruitgesien in die detail van die Ou Testament selfs in die geskiedenis van die verbondsark. Maria is ‘n “tipe” van verbondsark, daar is ‘n lyn, ‘n ooreenkoms. Die ooreenkomste is te opvallend om maar net "toevallig" te kan weees...  Maar nou moet ons fyn trap - gaan dit oor die uniekheid van Maria of oor die uniekheid van Jesus?

Hierdie merkwaardige gebeurtenis onderstreep net bo alles die uniekheid van Jesus – belangrik – in die res van Lukas val die klem nie op Maria nie, maar op Jesus die Seun van Maria, die Seun van God.

Die verbondsark tipologie help ons juis om die heerlikheid van Jesus nog meer te besef!  Kyk eers na Hebr 9:3,4 waar die tabernakel beskryf word : 


"En agter die tweede tempelgordyn was 'n tent, wat die Allerheiligste genoem is; dit het die goue altaar vir die reukwerk bevat en die verbondsark, wat aan alle kante met goud oorgetrek was. Daarbinne was die goue kruik met manna, en die staf van Aäron wat gebot het, asook die tafels van die verbond;"

Dink nou weer :

Die verbondsark het die Woord van God, die Tien gebooie op kliptafels bevat, Maria dra die Lewende vleesgeworde Woord van God, Jesus Christus. Die verbondsark het die staf van Aaron die hoëpriester wat gebot het bevat -  Maria dra die ewige finale Hoëpriester, Jesus in haar skoot;  Die verbondsark het ‘n goue kruik met Manna bevat wat die volk moes herinner aan God se versorging in die woestyn, Maria se baarmoeder bevat Jesus, die ware Manna, die Brood van die lewe wat van die hemel gekom het soos Jesus self dit verduidelik in Johannes 6:41.  

Maria se uniekheid as anti-tipe van verbondsark plaas die fokus op Jesus se uniekheid en genoegsaamheid. Hy vervul al die Ou Testamentiese gebeurtenisse, instellings, seremonies en voorwerpe. Aanbid Hom! Fokus op Hom. 

Dis die groot vraag bly dus- nie wat dink jy van Maria nie, maar - Ken jy die unieke Jesus die Seun van God? 

Tog bly Maria vir ons ‘n voorbeeld van opregte oorgawe aan die wil van God. Sy is ‘n modeldissipel. Ons dink aan haar met dankbaarheid. Ons respekteer haar as  die begenadigde maagd, die Moeder van Jesus saam met die kerk van alle eeue.

VOETNOTAS

*Die Griekse woord πισκιάζω wat gebruik word in Lukas 1:35 ("oorskadu" word ’n paar keer in die LXX gebruik om na die wolk van heerlikheid te verwys wat die verbondsark in die tabernakel oorskadu het. Ons vind dit byvoorbeeld in Eksodus 40:35 (κα οκ δυνάσθη Μωυσς εσελθεν ες τν σκηνν το μαρτυρίου, τι πεσκίαζεν πʼ ατν νεφέλη κα δόξης κυρίου πλήσθη σκηνή.

** Met erkenning aan die volgende tabel. Kliek op tabel.

Vir 'n volledige akademiese artikel oor hierdie onderwerp, kliek op MARIA - tipologie


Saterdag 04 November 2023

DIE DOOD LAAT MY WONDER...


 Wanneer ons hoor iemand het gesterf - wonder mens onwillekeurig : "Waar is hy NOU?" Of jy is op 'n staptog in die veld en loop verby 'n ou graf dan gaan die gedagtes ook wwer in daardie rigting : "Waar is hierdie persoon NOU - vir ewig in die teenwoordigheid van God of dalk iewers anders?"

Baie beslis is dit nie ons taak om te oordeel nie - gelukkig God alleen sal dit doen. Maar gelukkig laat die Bybel ons nie in die duister wat betref die belangrikste vraag in die lewe nie!

"HOE WORD 'N MENS GERED?"

Die antwoord op hierdie vraag word helder in die Heilige Skrif geantwoord sommer op baie plekke. Een so 'n besondere plek is daardie geleentheid toe die profeet JESAJA 'n buitengewone, aangrypende VISIOEN gesien het!


Kliek op VISIOEN en luister gerus. (Maak sommer jou Bybel self ook oop by Jesaja hoofstuk 6.)

Woensdag 20 September 2023

SAAM BID MET VALSE GODSDIENSTE?

- Wil die Algemene Sinode nou nóg dwalings inbring?


Dit klink asof daar stemme, baie subtiel en baie vriendelik ... binne in ons geliefde kerk opgaan wat dit goedpraat en aanbeveel dat ons selfs binne in ons kerkgeboue saam met aanhangers van heidense godsdienste gebedsbyeenkomste moet hou, waartydens ons in beurte of parallel met mekaar kan bid. Dis wat mens lees in die Agenda van die Algemene Sinode van die NGK van Oktober 2023 *


Natuurlik dit spreek vanself dat ons alle mense, as skepsels van God met respek moet behandel. Onbeskofte gedrag en beledigende optrede gaan niemand vir die evangelie wen nie. Paulus se weldeurdagte, maar kompromislose voorbeeld van verkondiging aan die heidene van Athene in Handelinge 17 is 'n handboekvoorbeeld.

Respekvol wees en sinkretisme (godsdiensvermenging) is twee verskillende dinge. Ek wil daarom ernstig beswaar maak teen die gedagte dat ons in ons gemeentes saam met Hindoes, Moslems, aanhangers van tradisionele Afrika godsdienste ens. kan bid. 

VIER REDES

Ek noem graag vier redes waarom gesamentlike aanbidding met vals gelowe nie mag gebeur nie.. Die eerste drie gaan oor die verbreking van die eerste gebod, naamlik liefde tot God. Die vierde rede gaan oor die verbreking van ons liefdesverpligting teenoor ons medemens.

1.Daar is niks mooi in enige afgodsdiens nie. 

Hoe opreg die afgodsdienaars dit nou ook al bedoel, diens aan enige afgod is weersinwekkend.  In die genoemde ATLAS dokument word inderdaad verwys na Paulus se rede in die Areopagus in Athene, maar Handelinge 17:16 word gerieflikheidshalwe verswyg. “Terwyl Paulus in Athene op hulle (Silas en Timoteus)  gewag het, was hy in sy gees diep verontwaardig toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is.” Die aanskoue van afgodsbeelde maak Paulus kwaad! PUNT.  Dit was sy diepste gewaarwording, maar natuurlik het hy taktvol en met wysheid hierna verder gepraat. Met vriendelikheid en beslistheid het hy Jesus aan hulle verkondig - die Man wat uit die dood opgewek is! Sy diplomatiese optrede het egter nie verhoed dat hy sy hoorders duidelik teen die komende oordeel gewaarsku het nie. Paulus het ook nie geskroom om die eis tot bekering te stel nie.

2.Wie afgode aanbid, aanbid eintlik demone. 

Dis nog ‘n ernstige rede waarom ons nie maar kan toekyk en deelneem aan ‘n geleentheid waar ander afgode aanbid word nie.  Dis Paulus se argument in 1 Korintiers  10:18-22 Let spesifiek op na vers 20!

“Kyk na die volk Israel: Het diegene wat van die offers eet, dan nie deel aan die altaar nie? 19 Wat bedoel ek hiermee? Dat 'n afgodsoffer tog iets is, of dat 'n afgod iets is? 20 Nee, maar wat hulle offer, offer hulle aan demone, nie aan God nie – en ek wil nie hê dat julle aan demone deel moet hê nie. 21 Julle kan nie die beker van die Here drink én die beker van demone nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here én aan die tafel van demone nie. 22 Of is ons besig om die Here jaloers te maak? Is ons dan sterker as Hy?”  

Wie deel wil neem aan die Heilige Nagmaal, moet seker maak dat hulle nie kompromie met die afgode en eintlik demone maak nie! Dit sou God se toorn kon opwek! Pasop!

3.God deel sy eer met niemand nie!  

Hier kom ons nou by die wortel van die saak.  Laat jou gedagtes bietjie teruggaan na die berg Karmel. Elia, God se enkele profeet op die toneel. 'n Weifelende volk. Hordes heidense priesters. Elia se boodskap en ultimatum  aan die wyfelende verbondsvolk was baie duidelik - “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die Here God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom.” (1 Konings 18:21) 

Moet ons regtig nou toelaat dat Hindoe gode en voorvadergeeste in ons kerkgeboue aangeroep word?  Duisend maal NEE! Dit sou ‘n aantasting van God se eer wees! God se eie standpunt in Jesaja 42:8 is baie duidelik :  Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee Ek nie aan gesnede beelde nie.”

Kompromie met die afgode laat ons getuienis skade ly... Dit bring ons by die vierde rede.

4.Gesamentlike gebed met valse godsdienste is nie net disrespekvol teen God nie, maar is juis ook liefdeloos teenoor die verlore heidene. Hoekom? Daar is net een Middelaar tussen God en mens naamlik Jesus.  In ons tyd van postmodernisme en raltiwisme is die boodskap van 1 Timoteus 2:5 baie belangrik. “Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus  As ons nou maar sonder protes saam met heidene bid kan dit die indruk skep  dat daar baie paaie na God is en dat Jesus net een moontlikheid uit baie is, en so mislei ons mense. Dis doodgewoon liefdeloos.

Die stemme binne in die kerk wat ons wil aanmoedig om saam met ander godsdienste te bid is nie die stem van die Lam nie, maar van die vals profeet!

 

*"Christene kan dus meehelp om gesamentlike aanbiddingsgeleenthede ‘n besondere kwaliteit te gee. Dit is nie ‘n geleentheid waar godsdiensgroepe met mekaar kompeteer of armdruk nie, maar ‘n geleentheid waar Christene – saam met mense van ander geloofsgroepe – ons geloof bely, elkeen op ons eie unieke manier. Godself is die Een wat ons harte toets en deurgrond – ons s’n, maar ook die harte van mense van ander godsdienste. Dus word die oordeel aan God alleen oorgelaat. Dit sou dus aanbeveel kon word dat Christene – veral dan ook as gemeentes op plaaslike vlak – nie sal huiwer om gesamentlike geleenthede te reël waarin kwellende kwessies van ons samelewing en die wêreld aan die orde gestel kan word nie. Dit sou op “neutrale” plekke kon plaasvind, maar dit sou ook ‘n besondere gebaar van gasvryheid teenoor mense van ander godsdienste kon wees om sulke byeenkomste in ons kerkgeboue te hou. By sulke geleenthede is wedersydse respek vir mekaar se tradisies en rituele van uiterste belang. Christene kan en moet by sulke geleenthede nie daarop aandring dat mense van ander godsdienste die Christelike tradisies moet volg nie. Eweneens sou Christene ook nie die eiesoortigheid van hul gebedstradisies en -rituele hoef op te gee nie. Sulke gesamentlike byeenkomste kan só ingerig word dat almal geleentheid gegun word om (ná mekaar, of parallel met mekaar) die kwessies wat bespreek is in gebed op te dra."  {Aanhaling uit AS 2023 Agenda p76]